'n Bietjie meer oor Thaba...

Logistiek
Kragopwekkers is die enigste bron van elektrisiteit vir die hele kamp. Alle warm water word deur n primitiewe (gemoderniseerde) donkie voorsien, en watertenks op die skeepvraghouer vir drinkwater wat beskikbaar is, met wasbakke vir tandeborsel en krane vir stortwater.

Ablusiegeriewe
Die tuis-ontwerpte toilette en storte is uniek en higienies volhoubaar. Alle toerusting is deur Thabaniete ontwerp, en word vir elke kamp opgeslaan en in stand gehou. Dit is voorwaar die mooiste opelug storte in die bosveld, en in die aande hou die sterre jou geselskap wanneer jy die dag se stof afwas.

Kombuis
Ons kombuis word vannuit een skeepvraghouer bestuur, en bestaan uit 'n afdak met gasplate daaronder ingerig, asook n opwasplek tussen die bome. Die verkoelingsfasiliteite verskaf die nodige bereplek, en ons opskeprye vorm onder die "camo" nette.

Omgewing
Die natuur word gekenmerk deur pratige bosveld bome, rotsgedeeltes en beestepaaitjies. Ons poog om die natuur so ongerep moontlik te laat, inlsuitend die natuurlewe. Met ander woorde: niks word doodgemaak nie - tensy dit jou lewe bedreig, maar in daardie geval sal jy eerder wil maak dat jy wegkom...

Die mense
Staatmakers en offisiere doen diens op die kamp by al die bogenoemde aspekte waartydens die Verkenners blootgestel word aan dienslewering en algemene takies om die kamp aangenaam te maak vir elkeen. Die unieke infrastruktuur van die kampterrein gee 'n hele nuwe betekenis aan diensdoen!

Die atmosfeer
Thaba Veldwerkkamp word gekenmerk deur die uitlewing van die Thaba waardes (Geloof, Respek, Integriteit en Trots) en elke Thabaniet betree die kampterrein met hierdie gesindheid. Godsdienstye word deurgaans volhou en medemenslikheid is kenmerkend sigbaar.

Noodhulp
Ons het 'n volledig toegeruste noodhulp tent wat alle tipe gevalle (van diabetes, epilepsie tot hartprobleme) suksesvol hanteer het deur die jare. Die groter aspekte wat meer algemeen voorkom is 'n insekbyt of twee, en klein gevalletjies wat maar natuurlik in die veld voorkom, en daar word deur professionele paramedikuste asook hospitaalsusters na die gevalle omgesien.

Kursusse
Behalwe vir die ooglopende kursusinhoud van die kursusse, is daar 'n unieke faset wat deel van elke kursus uitmaak, om te verseker dat die Verkenners hulle volle kennis verwagtinge kan uitleef tydens die kamp. Elke kursusganger ontvang ook die betrokke kursus se kursuspet vir uitkenning en beskerming teen die son.

Mierakel en herhinneringe
Danksy baie professionele benaderinge tot ons kampkoerant, word dit met groot waardering aan die einde van die kamp aan elke Thabaniet uitgedeel. Daar is so baie foto's van elke kursus elke jaar dat elke Verkenner ‘n volledige kamp CD met al die foto's kan bestel tydens die kamp.

Snoepie en aandenkings
Daar is 'n snoepie op die kamp wat groot skaarshede, koue koeldranke en soetgoedjies, verkoop... Daar is ook verskeie klerasie en aandenkings te koop vir Thabaniete.

As jy eenmaal Thaba se water gedrink het, kom jy verseker weer "huis" toe tydens die kampe.

Sien jy kans vir 'n belewenis soos min?

Ja? Nou waarvoor wag jy?